Laerskool Fontainebleau is gebou op waardes wat deurentyd op sportgebied beleef en uitgeleef word, week na week, wedstryd na wedstryd. Fonties gryp die geleentheid so dikwels moontlik aan om op verskillende sportarenas uit te blink. Sport by Fonties is nie net iets wat ons doen nie, dit is iets wat ons is.
Fonties lewer jaarliks spelers op streek- en provinsialevlak op in verskillende sportsoorte en verteenwoordig die skool op die hoogste vlak. Hierdie leerders bring al daardie ondervinding terug en maak dit deel van ons Fonties sportlewenstyl. Sport is uit die aard van die saak ‘n groot deel van opvoeding in elke kind se lewe, waar elkeen leer hoe om met waardigheid deel te neem, en die etos uitlewe dat ons deur sport, vriende maak wat ‘n leeftyd hou. Die sport lig skyn helder ooral in ons kleurvolle Suid Afrikaanse sportgemeenskap, waar Fonties geken word vir hul durf deursettingsvermoë, en uitnemendheid in alles wat ons op die sportveld aanpak.
Sport by Fonties
Mini-Rugby
Organiseerder Dian Ludick
dian@fonties.co.za
Mini-Rugby is die begin van elke rugbyspeler se liefde vir die spel. Spelers maak kennis met die basiese vaardighede en beginsels van rugby en word stelselmatig voorberei vir uitendelike deelname aan 15-man rugby. Die spelers van o/4 – o/5 neem slegs aan oefening deel om die fondasie te bou vir nodige vaardighede. Die o/6 – o/8 neem aan wedstryde deel by verskeie mini-sport toernooie wat op kleiner velde en met aangepasde reëls plaasvind.
Die o/6 spelers speel “tag- of rip-rugby” waar elkeen met vlaggies aan beide kant van hul heupe speel, ‘n speler word gesien as raakgevat as een van die vlaggies afgetrek word deur die oponent. Die o/7 en o/8 spelers speel ‘n kleiner weergawe van rugby waar hulle blootgestel word aan raakvat rugby met verskeie aanpassings van die reëls. Die o/8 spelers neem ook aan 15-man rugby deel as vriendskaplik waar moontlik is tydens die skool se ligawedstryde.
Oefentye:
• o/4 – o/6 – Dinsdae en Donderdae in skooltyd (07:15 – 8:00)
• o/7 – o/8 – Maandae en Woensdae (13:30 - 14:15)
• o/8 15-man – Dinsdae (14:15 – 15:15)
Mini-Netbal
Organiseerder Mariaan van Niekerk
mariaan@fonties.co.za
Mini-Netbal word opgedeel in Vlinder netbal vir o/6 – o/7 en Netbalfeeste vir o/8 -o/9 spelers. Die verskillende toernooie bied geleentheid om van staanspoor af vertroud te raak met spel in al die verskillende posisies en die vaardighede wat vorentoe nodig raak aan te leer. Die spel is ‘n kleiner weergawe van werklike netbalwedstryde met vereenvoudigde reëls vir die jong spelers om in die proses van ontwikkeling te volg.
Oefentye:
• o/4 – o/6 – Dinsdae en Donderdae in skooltyd (07:15 – 8:00)
• o/7 – o/9 – Maandae en Woensdae (13:30 - 14:15)
• o/9 – Donderdae opsionele oefening waar kultuur voorkeur kry (14:15-15:00)
Mini-Krieket
Organiseerder Peter Nel
peter@fonties.co.za
Fonties se Mini-Krieket program is die intrede tot ‘n leeftyd se krieket waaraan spelers gaan deelneem in hul lewens. Die ontwikkeling van spesifieke vaardighede in alle aspekte van die spel word bevorder en almal is welkom om te kom speel. Deelname word bevorder om ‘n liefde vir krieket by elkeen vas te lê en ‘n element van genot is aan die orde van die dag, waar die gedagte is, met ‘n kolf en bal en speel ons saam.
Oefening:
• o/4 – o/6 – Dinsdae en Donderdae in skooltyd (07:15 – 8:00)
• o/7 – o/8 – Maandae en Woensdae (13:30 - 14:15)
Mini-Hokkie
Organiseerder Jiréh Swanepoel
jireh@fonties.co.za
Mini-Hokkie se grootste doel is om deelname en vaardighede te ontwikkel en te bevorder. Die stok en balvaardighede wat nodig is vir die spel word op die spelers se vlak aangebied met die doel om hulle goed toe te rus om hokkie as ‘n sport te speel en te geniet. Die spelers leer van ‘n jong ouderdom af om die spel lief te hê.
Oefentye:
• o/4 – o/6 – Dinsdae en Donderdae in skooltyd (07:15 – 8:00)
• o/7 – o/8 – Maandae en Woensdae (13:30 - 14:15)
Atletiek
Organiseerder Surika Buys
surika@fonties.co.za
Atletiek is die fondasie van alle sport wat op skoolvlak beoefen word. Fonties beskik oor goed gekwalifiseerde afrigters wat spesialiseer in spesifieke items tot bevordering van elke atleet. Die afrigters van die skool is kundiges op ontwikkeling van jong kinders en stap ‘n pad saam met elke atleet wat begin op die vlak van vaardigheid van elke kind en die bereik van hul volle potensiaal as atleet. Elke atleet se vordering is belangrik en massadeelname word nagestreef so ver as moontlik, om ten einde kompeterende atete op te lewer vir vordering na Super 12, Streek, Provinsiaal en Nasionale deelname.
Oefening:
• Atletiek word in twee sessies opgedeel van Maandag – Donderdag, atlete kan by enige sessie inval soos dit hulle items en deelname verlang.
• Sessie 1: 14:15 – 15:15
• Sessie 2: 15:15 – 16:15
• Diskus en Spiesgooi: 06:30 – 07:15
Swem
Organiseerder Natasha van der Walt
natasha@fonties.co.za
Fonties beskik van hul eie swembad op die skoolgronde. Die swembad word gebruik om ons swemmers voor te berei vir die swemliga en deelname aan Super 12 kompetisie. Die skool het ‘n A- en B-span wat deelneem aan die begin van die jaar in kwartaal 1 en aan die einde van die jaar in kwartaal 4. Die swemmers word deur ‘n bekwame span afrigters, geslyp en maak deel uit van Fonties se skoolsport wat jaarliks groot opwinding tydens die interne Huis-sport veroorsaak.
Oefentye:
• Juior groep: 13:30 – 14:15
• Senior groep: 06:30 – 07:15
Rugby
Organiseerder Rainier van Tonder
rainier@fonties.co.za
Fonties rugby het ‘n geskiedenis so oud soos die skool en ‘n reputasie wat ons naam ver vooruit strek. Die tradisies wat deur ‘n sterk rugbykultuur gebou was oor die jare heen het al verskeie vorme voorgekom, maar die etos bly dat Fonties rugby ‘n integrale deel is van ons lewenstyl by die skool. Ons lewer jaarliks puik spelers op wie die skool en gemeenskap op streek en provinsiale vlak verteenwoordig. Ons neem jaarliks aan die Super 12 reeks, toere, vriendskaplike- en ligawedstryde deel en bevorder uit en uit die balans tussen deelname en kompeterende spel. Die rugby breiers van die skool brei elke speler op hul eie manier om nie net beter spelers te word nie, maar beter mense.
Oefentye:
• o/8 (15-man): Maandae & Woensdae (13:30 – 14:15), asook Dinsdae (14:15 – 15:15)
• o/9 & o/11 spanne: Maandae tot Donderdae (14:15 – 15:15)
• o/10 & Oopspanne (o/12-o/13): Maandae tot Donderdae (14:15 – 15:15)
Netbal
Organiseerder Eltika Jacobs
eltikaj@fonties.co.za
Fonties Netbal kweek jaarliks uitnemende netbalspelers wat speel met die durf en deursettingsvermoë wat die hartklop van ons skool is. Elkeen van ons spanne word deur topvlak afrigters voorberei om op die hoogste vlak van Laerskool netbal deel te neem in die Super 12 reeks, toere, vriendskaplike- en ligawedstryde waaraan deelgeneem word op ‘n jaarlikse basis. Die spelers is ware ambasadeurs van ons skool en stel die beste van Fonties voor op die baan en van die baan af.
Oefentye:
• o/10 – o/11: Maandae tot Donderdae (14:15 – 15:15)
• o/12 – o/13: Maandae tot Donderdae (15:15 – 16:15)
Krieket
Organiseerder Peter Nel
peter@fonties.co.za
Fonties se krieketafrigters word getaak om die volgende generasie krieketspelers op te lewer wat nie terugstaan vir enige iemand nie. Ons krieket is geafilieerd by die Gauteng, Noordwes streek en het seisoen na seisoen verteenwoordigers op hierdie vlak in elke ouderdomsgroep, van o/9 – o/13. Die spelers vorder verder as streek na provinsiale vlak waar Fonties ook verteenwoordig word met ons beste krieket seuns. Die skool seisoen is hoofsaaklik in die derde kwartaal en ons voorbereiding vir die strawwe liga sluit toere en vriendskaplike wedstryde in. Spelers leer om ware etiket ten toon te stel en ‘n voorbeeld te wees van hoe krieket gespeel moet word in goeie spangees. Spanne begin reeds op o/9 vlak met ‘n hardebal in die liga en streekspanne, waar hardebalkrieket gespeel word.
Oefentye:
• o/9 – o/10: Maandae tot Donderdae (14:15 – 15:15)
• o/11 – 1ste XI: Maandae tot Donderdae (15:15 – 16:15)
• Wedstryde word elke dag van die week gespeel en werk as volg:
Maandae – Oop spanne (1st XI, 2de XI en 3de XI)
Dinsdae – o/9 spanne
Woensdae – o/10 spanne
Donderdae – o/11 spanne
Hokkie
Organiseerder Mariaan van Niekerk
mariaan@fonties.co.za
Hokkie word aangebied vir dogters sowel as seuns in die derde kwartaal. Die skool is geaffilieerd by die D10 Streek waar ons spelers streekspan verteenwoordiging kan bereik. Hokkiespanne gaan toer jaarliks, speel in die Super 12 reeks, neem deel aan vriendskaplike- en ligawedstryde. Dogters speel in ouderdomme o/9 – o/13 en seuns neem as o/11 en o/13 spanne deel.
Landloop
Organiseerder Juanti le Roux
Juanti@fonties.co.za
Fonties het ‘n aktiewe landloop-program waar die atlete reeds in kwartaal twee met voorseisoen voorbereiding begin. Atlete neem deel aan festivals, vriendskaplike-, en ligabyeenkomste gedurende die tweede en derde kwartaal. Die landloop atlete skakel soomloos oor na die atletiekseisoen in kwartaal een en vier, waar hulle heel jaar deur betrokke is met die sport op een of ander vlak.
Gholf
Organiseerder Nico van Jaarsveld
Nico@fonties.co.za
Fonties gholf is bevoorreg om Randpark Gholfklub as ons tuiste te roep waar professionele afrigting weekliks bygewoon word vir junior sowel as senior groepe. Die spelers neem deel aan interne kompetisies om die Fonties ranglys te bepaal, asook aan die Super 12 reeks en vriendskaplike wedstryde teen ander skole.
Tennis
Organiseerder Nico van Jaarsveld
Nico@fonties.co.za
Die tennisprogram by Fonties bestaan uit junior- sowel as seniorgroepe wat reg deur die jaar oefen. Die skool is bevoorreg om ons eie professionele afrigter by die skool te hê wie met al die groepe werk, asook privaat lesse op die skoolbane aanbied. Senior spanne neem deel aan die Super 12 reeks, vriendskaplike- en ligawedstryde gedurende die eerste, derde en vierde kwartaal. Juniorspanne speel in liga in die derde kwartaal. Tennis as individuele sport is waardevol vir leerders se ontwikkeling en ‘n groot deel van ons opvoedingstaak by Fonties.
Skaak
Organiseerder Sandra Blignaught
Sandra@fonties.co.za
Skaak spelers word in samewerking met House of Chess by die skool afgerig. Oefeninge word op vaardigheidsvlak van elke leerder bepaal en die groepe ontwikkel van beginners tot ligaspanne. Die skaakspanne neem deel aan buite toernooie, Super 12 reekse en ligawedstyde gedurende die jaar. Spelers bereik deur die skaakprogram gereeld provinsiale en nasionale kleure vir skaak. Die skoolspanne neem in ouderdomsgroepe o/7 – o/13 deel.
Hengel
Organiseerder Johan Kotze
Johan @fonties.co.za
Fonties berei ons kinders voor in ‘n verskeidenheid sportsoorte, waar hengel een van die mees populêre keuses bly. Hengelaars werk in spanne saam as indivudue waar provinsiale en nasionale kleure bereik kan word. Fonties hengel lewer gereeld leerders van gehalte op wie ons skool op hierdie vlakke verteenwoordig. Hengelaars neem deel aan klinieke, ligabyeenkomste en vriendskaplike hengel.
Bergfiets
Die leerders van Fonties word ‘n geleentheid gebied om onder die naam van Laerskool Fontainebleau deel te neem aan die Gauteng School Cycling reeks. Die fietsryers ry in minstens ses verskillende wedrenne gedurende die jaar en maak punte bymekaar vir deelname en prestasies. Dit is een van die sporte by die skool wat wat sorg vir die meeste opwinding oor naweke. Enige ouderdomme is welkom om deel te neem.
Perdry
Leerders by Fonties neem deel aan perderuiterskap onder die vaandel van die skool. Elke ruiter werk saam met hul eie perd en neem aan die verskillende dissiplines van perderuiterskap deel. Perderuiterskap is al vir ‘n geruime tyd deel van die skool se sportprogram en ruiters neem in hul skoolkleure deel by kompetisies.